Harlan L.B. se Biografie and Platform

Biografie

Harlan L.B. (hy/hom) is in die fangemeenskap sedert hy die eerste keer op ’n Lord of the Rings-slashfik afgekom het – meestal as ’n leser en obsessiewe versamelaar, maar soms as ’n fanboekbinder. Hy het in 2018 by die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) aangesluit as ’n tegnologievrywilliger vir die Open Doors (Oop Deure)-projek en werk sedertdien daar (behalwe vir ’n onderbreking van een jaar). Vroeg in 2024 is hy as die Raad se Kubersekuriteitsafgevaardigde aangestel en het ’n oudit oor die sekuriteit van die OTW uitgevoer. Die verslag is in Mei 2025 aan die Raad gelewer.

Buite die OTW werk Harlan as ’n konsultant wat federale, staats- en plaaslike regerings help om tegnologie vir gebruikers en vir die publiek te laat werk. Hy het vir meer as twee dekades in inligtingsekuriteit en sagteware-ingenieurswese gewerk, insluitend as ’n C-suite leier en as ’n senior sekuriteitsargitek. Hy dra ook by tot die vrye sagteware- en oopbrongemeenskap – tans as ’n Debian-ontwikkelaar.

Platform

1. Hoekom het jy besluit om te staan vir verkiesing tot die Raad?

Ek dink al jare lank daaraan om vir die Raad te staan, maar ek was bekommerd dat my persoonlike en professionele verantwoordelikhede my nie genoeg tyd sou gee om die rol my beste te gee nie. Die werk wat OTW doen is egter vir my baie belangrik, so ek het besluit om van sommige van my ander werk terug te tree sodat ek vir hierdie posisie kan staan.

2. Watter vaardighede en/of ervaring sou jy na die Raad bring?

Alhoewel die meeste van my ses jaar as OTW vrywilliger relatief gespesialiseerd was, het my rol as die Raad se Kubersekuriteitsafgevaardigde my ’n unieke geleentheid gegee om met vrywilligers regoor die organisasie te praat. Benewens my ervaring by die OTW, het ek ondervinding met beide klein- en grootskaalse begrotings in die privaat- en staatsektor, asook in leiersposisies in die vroeë stadiums van ’n paar nie-winsgewende organisasies. Ek het ook in die verlede op die raad van ’n nie-winsgewende organisasie gedien en het heelwat ondervinding in die aanskaffing en bestuur van sagtewareverskaffers.

3. Kies een of twee doelwitte vir die OTW wat belangrik is vir jou en waaraan jy sou belangstel om te werk gedurende jou termyn. Hoekom is hierdie doelwitte vir jou belangrik? Hoe sou jy met ander mense werk om hulle te bereik?

Die grootste doelwit wat ek wil bereik is om te verseker dat die OTW en sy hulpbronne vir die langtermyn opgestel is – ek wil seker maak dat die werk wat aan ons toevertrou is, nie net vir jare hier is nie, maar vir geslagte wat kom. Dit sou beteken dat ons die OTW se hulpbronne bestudeer – finansieel, tegnies en vrywilliger – en verseker dat ons elkeen op ’n volhoubare pad plaas. As al drie nie gebalanseerd en sterk is nie, kan ons nie verwag dat die OTW in staat sal wees om sy hulpbronne oor die komende dekades te voorsien nie. Dit is ’n projek wat al OTW se komitees sal raak. Dit is nie iets wat ek, of selfs die Raad, alleen sal kan doen nie; dit sal hulp van ons vrywilligers, ons skenkers en ons lede vereis – maar saam kan ons verseker dat die OTW aanhou om te bestaan en die transformerende fangemeenskap te ondersteun.

4. Wat is jou ervaring met die OTW se projekte en hoe sou jy met die relevante komitees saamwerk om hulle te ondersteun en te versterk? Probeer om ’n reeks projekte in te sluit, maar jy kan ook spesifieke projekte waarmee jy ervaring het, beklemtoon.

Wat vrywilligerswerk betref, het ek amptelik slegs op die Oop Deure-komitee en die Raadsassistente-komitee (as die Raad se Kubersekuriteitsafgevaardigde) gewerk. My werk daar was relatief silovormig – anders as ’n bietjie oorvleueling met die Etiket Organisasie Komitee werk Oop Deure se tegniese vrywilligers nie gewoonlik veel met ander komitees nie. Terwyl ek as die Raad se Kubersekuriteitsafgevaardigde gewerk het, het ek egter saam met komiteevoorsitters en lede van regoor die OTW gewerk, veral met die Toeganklikheid, Ontwerp en Tegnologie-, Finansie- en Sisteemkomitees. Ek het die werk van die Legal Advocacy (Regsvoorspraak)-span met belangstelling gevolg, hoewel dit nie iets is waartoe ek self regtig kan bydra nie!

5. Hoe sou jy jou Raadswerk balanseer met jou ander rolle binne die OTW, of hoe beplan jy om jou huidige rolle te oorhandig om op Raadswerk te fokus?

Indien ek tot die Raad verkies word, sal my werk as die Raad se Kuberveiligheidsafgevaardigde in dieselfde trant voortgaan – bloot van die ander kant af – aangesien ek sal help om die aanbevelings te implementeer. Noudat die hoofverslag voltooi is, is daar meer tyd vir ander dinge, so ek verwag nie ’n aansienlik tydsbotsing tussen my werk as Kuberveiligheidsafgevaardigde en ’n potensiële posisie op die Raad nie. Wat my werk by Oop Deure betref – Oop Deure-invoere kan ’n ingewikkelde en stadige proses wees. Werk word in verskeie fases gedoen en word by tye aan ander groepe oorgedra voordat dit weer tergukom om later aan gewerk te word. Dit beteken dat daar pouses in die proses is waar tyd aan ander OTW-werk bestee kan word.